|
Die foto wat u hier sien is van ‘n 25-Ton kraan wat vroeër vanjaar met ‘n groot geknal, omring deur stofwolke omgeval, wiele in die lug.
Die operateur was op ‘n aanleg in ‘n steengroef besig toe die amper-rampspoedige ongeluk gebeur het.
‘n Ondersoek het aan die lig gebring dat die operateur nie een “outrigger” behoorlik uitgestoot het nie. Voorts het die “outrigger” aan die anderkant op sagte grond gestaan. ‘n Vrag is opgetel met die “boom” uitgestrek.
Die operateur het toe die vrag geswaai sonder om die “boom” in te trek. (Ek moes natuurlik bygevoeg het dat dit net voor tjaila-tyd was.) Toe die vrag “gedra” moes word deur die twee “outriggers” hierbo genoem kon dit nie en het die kraan omgeslaan. Die voorman wou vir die operateur gaan wys waar die vrag geplaas moes word en het onder die “boom” deur geloop toe die kraan omslaan. Hy se hy het ‘n lawaai gehoor en toe hy weer sien is die “boom” net bo sy kop. Hy sou deur die “boom” verpletter gewees het indien die “boom” nie op ander toerusting tot rus gekom het nie! Die voorman is al 25 jaar in die bedryf en so iets het nog nooit met hom gebeur nie. Hy se hy kry nog nagmerries. ‘n Paar lesse kan uit hierdie insident geleer word. Alhoewel die kraan ingehuur was en die operateur die werknemer van die kraan-verhuringsmaatskappy was, moes die maatskappy wat die kraan ingehuur het, verantwoordelikheid aanvaar vir die insident. Lyk dus asof ons nie nonsens van kraan-operateurs moet vat nie (al is hulle nie in ons diens nie) want ons mag die persoon wees wat in die beskuldigingsbank moet gaan staan vir hulle optrede.
Dit kan nie skade doen om ons personeel aan die volgende weer te herhinder nie: maak seker “outriggers” word altyd ten volle uitgestoot. Indien ‘n “outrigger” rus op grond wat kan meegee moet “sleepers” ens. gebruik word om die “outrigger” te ondersteun. (Ja, ek weet ‘n “sleeper” is swaar, maar begrafnisse is ook ”swaar”.) Moenie lui wees nie. Beweeg die kraan nader aan die vrag indien nodig. Chuck Norris bly ten alle tye weg onder die “boom”- al het jy vir die operateur gewys om te wag voor hy swaai.
|